Tuesday, October 27, 2009

Duitse Romantiese Roete

Duitse Romantiese Roete
11 – 19 Junie 2010
Slegs gekombineer met Passiespel: ±R30 990

Christine van Wyk-Toere stel bekend ‘n toer vol hoogtepunte! Die Duitse Romantiese Roete strek van Füssen in die suide tot by Würzburg in die noorde. So genoem omdat die woord Romantisch in Duits gebruik word vir ou kastele, ongeskonde dorpies en pragtige natuurtonele wat gedurende die romantiese tydperk deur digters besing is.
Die Roete tussen Füssen & Würzburg was in toeka se tyd 'n ou handelsroete - baie van die karakter van destyds is behou. Verlate plattelandse dele, dorpies met antieke ringmure en van die mooiste natuurtonele in Europa is langs dié roete te sien.
Ons begin in Frankfurt. Daarvandaan reis ons per bus na Rüdesheim, ’n idilliese dorpie aan die Ryn met sy wêreldbekende inkoopstraat, Drosselgasse. Dis 'n smal kleisteenstraatjie, net 144 m lank, met talle winkeltjies, kroeë en straatkafees waar musikante jou dag en nag betower. Booteienaars het die straatjie gebruik om vrag van die rivier na hul huise te vervoer.
Die rustigheid van die Ryn is volgende, met ‘n kort bootvaart. Hoewel die Ryn Europa se belangrikste waterweg en ekonomiese slagaar vir verskeie lande is, sal dit die rustigheid van die vaart en die asemrowende mooi ou kastele en wingerde op die oewers wees wat jy onthou. Die ou kastele het ‘n uiters interessante geskiedenis. Ons vaart neem jou tot by St Goarshausen, die sogenaamde Lorelei-stadjie.
Ná ons vaart ry ons na die pragtige Heidelberg, Duitsland se oudste universiteitstad, waar ons die Heidelberg-kasteel besoek. Die kasteel is oor ‘n tydperk van sowat 400 jaar gebou. Ons besoek die kasteel se binnehof en ook die wêreld se grootste wynvat. Die vat is 8,5 m lank en het 'n deursnee van 7 m. Sowat 130 akkerbome is gebruik in die vervaardiging van die wynvat, wat sowat 100 000 liter wyn hou.
Een van Duitsland se gewildste toeristeplekke, die Swartwoud, is volgende. Dis die hartland van Duitsland se hout- en houtsneebedryf en definitief dié plek om koekoekhorlosies te koop. Een van die dorpies wat ons in die Swartwoud besoek, is Triberg, tuiste van Duitsland se hoogste waterval.
Die pragtige Bodenmeer is ons stopplek vir die volgende twee dae – ons oornag in een van die dorpies om die pragtige natuurskoon te geniet. 'n Besoek aan Manau-eiland in die Bodenmeer is by die toerprys ingesluit. Die eiland word nie verniet die Blomeiland genoem nie. Daar is blomme dwarsdeur die jaar. Dit vergelyk goed met Keukenhof se tulpeprag in die Europese lente. Ewe mooi is die skoenlappertuin op die eiland.
'n Opsionele toer na die Zugspitze, Duitsland se hoogste bergspits, word sterk aanbeveel. 'n Panoramiese uitsig oor die sneeubedekte berge van Duitsland, Oostenryk, Italië en Switserland is moontlik van die Zugspitze. 'n Ratspoortrein neem jou tot heel bo. Dis 'n buitengewoon pragtige ervaring op sy eie.
Op pad na die Passiespel en Oberammergau doen ons aan by Neuschwanstein, koning Ludwig II se sprokieskasteel.
Ons bly twee nagte in of naby Oberammergau, waar ons die tienjaarlikse herdenking van Christus se lyding en kruisiging bywoon. Dis 'n onvergeetlike belewenis. Christine van Wyk-Toere verseker dat toerlede van die beste sitplekke het.
Van Oberammergau af besoek ons drie stede, elk met 'n antieke ou stad wat pragtig bewaar is.
Heel eerste is dit die geskiedkundige Neurenberg en sy Imperiale Kasteel, een van die belangrikste keiserlike paleise van die middeleeue. Daarna kom Rothenburg aan die beurt - Duitsland se bes bewaarde antieke stad. Die hele stad en sy ringmuur en verdedigingstorings is 'n museum en verplaas 'n mens na vergange dae. Die besoek aan die St Jacobskerk, met die houtsnyer Riemenschneider se beroemde altaar wat die Laaste Avondmaal uitbeeld, is onvergeetlik.
Die derde stilhouplek ná Oberammergau is Würzburg, waar ons die indrukwekkende Residensiële Paleis, 'n meesterstuk van Duitse barok-argitektuur, besoek. Die gebou het 345 vertrekke. Die plafonskildery, wat 677 m² beslaan, is die grootste ter wêreld.
Frankfurt en ons terugvlug huis toe lê dan voor. ‘n Toer vol opwinding, romantiek en onvergeetlike oomblikke is wat jy saam met jou terugbring na Suid-Afrika.
Christine van Wyk-Toere reël toere vir die fynproewer. Ons 30 jaar ervaring van gehaltetoere beplan en uitvoer, verseker dat die beste, mees opgeleide toerleiers op elke toer saamgaan. Ons toerleiers is mense wat omgee vir elke toerlid.
Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, kan ook hierdie toer meemaak. Moenie wag nie. Skakel vandag nog.
Kom deel hierdie pragtige toer saam met ons - Skakel Christine van Wyk-Toere by:
Tel nr: 012 546 4967
Faks: 012 565 5678
E-pos: info@toere.co.za
Web: http://www.travelentoer.co.za/

No comments:

Post a Comment